Wie dink jy is jy? Vind uit by FEDSAS se 2018-leerdersberade!

René Arendse, motiveringspreker en ambassadeur vir Afrikaans saam met die leerders uit Oudtshoorn, George en omliggende dorpe wat FEDSAS se leerdersberaad op Saterdag, 10 Februarie, bygewoon het.

Raadslid Colyn Sylvester, burgemeester van die Oudtshoorn Munisipaliteit, saam met Ria Olivier (ATR), René Arendse, Danie van Wyk (FEDSAS) en Fernando Tallie.

Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (‘n uitreikaksie van FEDSAS).

Leerders luister aandagtig.

Anna-Mart Schutte van Langenhoven Gimnasium (Oudtshoorn) neem deel aan ‘n lewendige gesprek oor leierskap.

FEDSAS het Saterdag, 10 Februarie hul eerste leerdersberade vir 2018 in George en Oudtshoorn aangebied. Dit was in samewerking met die onderskeie munisipaliteite, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Afrikaans.com, die ATKV en die Afrikaanse Taalraad (ATR).

FEDSAS is die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame. FEDSAS lig in, organiseer, mobiliseer en ontwikkel hul lede om die hoogste internasionale standaarde te bereik en te behou.

‘n Verteenwoordigende groep leerders uit die omgewing, wat almal op hul skole se beheerliggame dien, het die leerdersberaad bygewoon. Danie van Wyk (FEDSAS) sê dit was wonderlik om te sien wat die interaksie is tussen leerlinge en dat hulle oor sake kon redeneer en debatteer wat hulle nou raak. “Hierdie leerders is oplossingsgerig en wil bydra om Suid-Afrika ‘n wenland te maak.”

“Die Skolewet bepaal dat ‘n skoolbeheerliggaam ook leerderverteenwoordiging moet hê. Die doel van die beraad is om hierdie leerders bewus te maak van hul rol en funksie as lede van die beheerliggaam, maar ook breër in terme van die leierskaprol wat hulle in die skool vertolk,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê hoewel die meeste van die skole wat na die beraad genooi is, FEDSAS-lede is, is talle nie-lede ook genooi. “Die belangstelling was oorweldigend en dit is ‘n aanduiding van die behoefte wat daar vir sulke opleiding bestaan,” sê Deacon.

Raadslid Colyn Sylvester, burgemeester van die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Raadslid Colyn Sylvester, burgemeester van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het ‘n inspirerende boodskap oorgedra en die leerders aangemoedig om groot te droom en hul vlerke te sprei. “Om uit hierdie wêreld te kom, is ‘n voorreg en gee jou ‘n voorsprong. Jy is sterk en jy is uniek … moenie hier vashaak nie. Daar is ‘n wye wêreld wat wag vir jou om ‘n verskil te maak.”

Die motiveringspreker René Arendse (ook ‘n ambassadeur vir Afrikaans) het weggespring met die belangrike vraag: “Wie dink jy is jy?” Sy het haar storie vir leerders vertel en hulle aangemoedig om hul waarde te besef. “Sukses kom van binne … moenie wag op iemand om jou raak te sien nie. Wees alles wat jy kan wees en mense SAL jou reken en raaksien.”

Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad het die leerders aangemoedig om hul taal op te pas en hulself op alle vlakke uit te leef. “Jou moedertaal is jou kosbaarste geskenk. Leer in hom. Lééf in hom en jy sal sukses behaal!”

Leerders van Hoërskool Swartberg en Towerberg Primêr.

Marline Basson, René Arendse, Carli Munro en Anna-Mart Schutte (Oudtshoorn Gimnasium).

Nolene Lukas, René Arendse, Daylan April en Noiry Arnoldus (Calitzdorp Excelsior).

Ruan Windvogel, Catelynn Deysel, René Arendse, Jocelyn Tities en Nazeem Philander (Beaufort-Wes Sekondêr).

* Volgende is die Paarl aan die beurt. Vir verdere besonderhede stuur ‘n e-pos.